Jan en Mariana Balt

Ahaaa, dis wraggies lekker!
Ons het in 1998 ons Nissan Hardbody 2.7 Turbodiesel gekoop, 'n ekstra-hoë “canopy” laat opsit en laasgenoemde met 'n kontrêpsie soos 'n outydse katel toegerus sodat ons agterin kon slaap, met bagasie onder die “bed” en bo-op die ingeboude dakrak. Destyds van Witrivier, Mpumalanga, het Bak sy nooiensrit deur Zimbabwe, Namibië en Botswana onderneem en daarna het ons suidelike Afrika só deurkruis.
Eendag het 'n tydskrifadvertensie van 'n eienaardige oopvoubare tenterige ding iets binne my laat roer: Dié affêre, genoem 'n AHA, was net wat ons en Bak nodig gehad het. Veral omdat ons geen erg aan 'n geslepery kon kry nie. Die AHA se prys het ons egter eers daarvan laat vergeet en is Bak se “canopy” maar later met die Blouhuis ('n gerieflike tent, wat twee amper-bejaardes darem binne 'n halfuur kon staankry) aangevul.
Oor jare het ander kampweeldes gevolg, maar in onbewaakte oomblikke het die visioen van die AHA steeds nukkerig bly kop uitsteek. Toe ons in 2013 na ons geboorteland terugkeer en die Namib, Etosha, Sossusvlei, Hentiesbaai en ander wonderlike plekke minder as 'n dagreis van ons nuwe tuiste (Windhoek) af word (en ons in jare aangestap), het my rekenaarmuis al meer per ongeluk op die AHA-webtuiste geklik.
Kamp was nou 'n integrale deel van ons bestaan, maar steeds was ons nie lus om 'n sleepwa of karavaan teen Kaokoland of Damaraland se bergagtige roetes te probeer uitsleep nie. Ja, Bak is steeds met ons en ons het immers respek vir sy ouderdom ook.
En toe, middel 2015, sien ek iets op die AHA-webtuiste raak wat my laat regop sit: Dié kontrepsie kon nou by jou kampplek afgelaai word, sodat jou voertuig vry was om rond te ry – die einste “feature,” of liewers gebrek daaraan, wat ons tot dusver teen die AHA-konsep gehad het.
Alta (by die AHA-kantoor) is met 'n reeks e-posse vol vrae gepeper en kort voor lank was die koeël deur die kerk. Ons is Pretoria toe om ons AHA te bestel en twee maande later is Bak gestroop, gediens en sy tenk gevul vir die rit om die AHA te laat installeer.
Wat 'n plesier! Sommer op pad terug Windhoek toe het ons al gesorg dat die ergste blink van die aluminium met 'n gepaste lagie Kalahari-stof bedek word en voor 'n maand verloop het, was ons reeds Gross Barmen en Hentiesbaai toe. Hier het ons die AHA vir die eerste keer afgelaai om die gerieflike “winch” meganisme te toets en om seker te maak dat hy visgerei en ons ekstra vrieskas ook kon akkommodeer. Laasgenoemde natuurlik die voordeel van die ekstra pakplek in die “nosecone” in geval van 'n enkelkajuitvoertuig.
Rondom Kersfees is die AHA vir meer as 'n week by St Nowhere staangemaak waar veral die stort-in-'n-tas pure weelde was. Met die groot watertenk, sonpaneel en dubbele batterystelsel waarop ons besluit het, was ons ook goed toegerus vir die daaropvolgende rit langs en deur die Ugabrivier tot rondom die Brandberg.
Hierdie totale onafhanklikheid van water- en kragpunte het ons 'n nuwe naweektuiste laat ontdek: Die “pioneer campsites” by Düsternbrook waar dit net jy en die stroompie (as hy loop) en die berge en tientalle voëlspesies is...
Ons was onlangs weer met die AHA Suid-Afrika en Krugerwildtuin toe, heerlik om genoeg gerieflike pakplek (selfs hangplek) vir klere en beddegoed te hê, om nie eens te praat van die gerief van 'n alles-byderhand kombuis met stoof, yskas, spens en kraan selfs waar jy 'n pitstop langs die langpad maak nie!
Ek glo wel dat Dawie en sy span die op- en aflaai-meganisme mettertyd nog kan verbeter. Dit werk wel uitstekend, maar die “pote” is maar baie swaar en dis voorwaar 'n kuns om die voertuig en platform reg te “align” vir die oplaaislag – veral waar die terrein maar ongelyk is.
Maar teen die tyd dat ons AHA ses maande oud was, het ons reeds 30 nagte in hom deurgebring: Langs die see, in die bos, in die woestyn, tussen die berge en in “state of the art” kampe. Nêrens het ons nog met verlangende oë na ander kampeerders se toerusting gekyk nie, inteendeel, ons AHA verskyn reeds op talle mense (veral oorsese toeriste) se vakansiefoto's en ons verduidelik steeds graag en met entoesiasme hoe lekker dié ding kamp.
En die beste onverwagse bonus beleef ons telkens by grensposte: Doeanebeamptes se onheilspellende inspeksies verander telkens in 'n impromptu demonstrasie wanneer daardie agterste deurtjie oopgemaak word en ons verduidelik dat dit eintlik ons “huis op wiele” is!
Koop jou AHA nóú, moenie wag tot jy te oud is om hom te geniet nie

Jan en Mariana Balt
Windhoek

2 thoughts on “Jan en Mariana Balt

  1. L van Rooyen Reply

    Hi Mariana,
    Thank you for the helpful review. It was good to have the comparison with your ‘customised’ camping rig, using your bakkie; something we often contemplate as, like yourselves, would like to keep things simple, and above all – no towing!
    Not to mention the coincidence of a familiar name (from your time at our local newspaper – Laevelder) and hometown of White River!
    Vriendelike Laeveld groete!
    Louis & Linda van Rooyen

  2. Mariana Balt Reply

    Thank you Louis and Linda! Now you know how we spend our free time here in Namibia. But the Lowveld and Kruger still occupy a very close second place in our lives – of that the five visits in three years since we left, are evidence, surely?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *